Bekostigbare troues as die spaarvarkie ondergewig is
1 & 2 November was FAB Bruidskou tyd in die CTICC en ‘n ongemaklike onderliggende gevoel was dat knypende finansies ook te bespeur is in die wonderlike wêreld van Troues.
Die blote desperaatheid waarmee jy oorval is deur stalletjie meesters en meesteresse, het die smagting na besigheid ongemaklik oorgedra.
Met drukkende finansies kan Bruide (of die bruid se arme pa) net eenvoudig nie meer Bekostig om ‘n rok, ‘n lokaal, ‘n spyskaart, ‘n koek en ‘n Fotograaf van duisende rande te betaal nie. Tog gaan mense nie ophou Trou nie en dus moet die beskikbare begroting gesnipper, gemeng en gepas word om ‘n dag so na aan jou drome te kry soos wat jy nog altyd wou hê.
Makliker gesê as gedoen, maar deur presies te gaan opweeg wat jy gaan kry vir jou geld en wat jy gaan maak met wat jy kry, kan dit gedoen word.
Eerstens moet die lokaal waar jy en jou toekomstige lewensmaat ewige trou gaan sweer, bepaal word. Dit vorm die raamwerk waarop alles verder gebou gaan word. Iets om in gedagte te hou wanneer jy bespreek is die volgende: Watter persentasie van die deposito wat jy moet neersit gaan dood eenvoudig vir die naam op jou uitnodigings gaan staan? Ek sal graag wil glo dat jou gaste gaan opdaag omdat jou naam op die uitnodiging staan en nie jou lokaal se naam nie. Kyk of daar nie dalk meer bekostigbare plekke in die nabyheid is waar jy dieselfde waarde gaan kry teen ‘n laer prys nie.
Jou rok is natuurlik ‘n ander turksvy in die Troubegroting. Dit is fantasties om ‘n ontwerper te kry wat die rok net vir jou maak en jy skitter op jou groot dag en daarna bêre jy die pragstuk in boks onder jou bed net om op jou tiende huweliksherdenking in ‘n oomblik van nostalgie die boks oop te maak en te sien silwermotte het voorgereg, hoofgereg en nagereg geniet. Indien jy voel dat jy nie iemand anders se droom op jou dag wil dra en huur nie, probeer ‘n ontwerper kry wat rokke verhuur en vir wie jy die rok teruggee na die tyd om te verhuur. Dit sal help om die gordel so effe slapper te maak om jou begroting se redelike plat pensie.
Die koek is natuurlik ‘n kunswerk op sy eie en is ‘n ikoon van die groot dag. Dus kan dit nie uitgelaat word nie, maar wees prakties.
In die jaar 2008 is daar ‘n verskeidenheid opsies beskikbaar rakende die bitter belangrike koek wat beide finansieël en visueel strelend is. ‘n Ander opsie is om jou koek as nagereg te nuttig en sodoende te sny op jou spyskaartkostes deur ‘n stukkie koek aan elke gas te bedien vir nagereg.
Die videograaf ... huhmm. Ek wil so min as moontlik oor die videograaf sê omdat ek nie onproffessioneel wil wees nie en ek ook nie ‘n praktyk op sy eie wil kritiseer nie. Ek los die leser dus met die volgende vraag, “Hoe groot was jou opgewondenheid toe jy laas deur iemand anders se hele trouvideo moes sit?”.
Die Fotograaf is ‘n redelike kardinale rolspeler in die hele uitvoering, dit is deur die fotograaf se oë wat jy later gaan oomblikke herleef wat jy gemis het, jy die glinster in jou eie oë gaan kan sien, jy vir altyd die warmte gaan herleef van ‘n traan in jou pa se oog soos wat julle die paadjie afstap... Onthou egter dat die belangrikste deel van jou fotograaf se werk is om die oomblikke vas te vang en daarmee saam jou te laat gemaklik voel. Wanneer dit by fotograwe kom is dit dus ook belangrik om iemand te kry wat jy mee gemaklik is en jy vertrou. Gelykstaande hiermee is ook om seker te maak dat die pakket wat jy kies nie oorboord gaan met onnodige fieterjasies nie. Dit is nie nodig vir jou om vir jou skoonma en ma en wie ook al ‘n stel foto’s te laat druk nie. Hulle kan hul eie kopieë bestel en daarvoor betaal.
Jou gastelys is nog ‘n besparingsmoontlikheid. Dit is nie nodig om jou kollegas te nooi na jou troue toe net omdat jy skuldig voel oor hulle vir jou ‘n kombuistee by die werk gereël het nie. Onthou dat die geleentheid baie moontlik uit die werk se spaarbussie gefinansier is.
Jy staan ook vry om slegs die vriende en familie wat jy self graag daar wil hê te nooi.
Wanneer jy jou spyskaart beplan is dit ook moontlik om met ‘n gesoute spysenier ‘n feesmaal voor te berei teen laer insetkostes. ‘n Redelik neerslagtige realiteit rakende die hele spyskaart is egter dat ongeag van hoe smaakvol en heerlik dit voorgesit word, sal daar nog steeds iemand wees wat voel dat die vleis te droog was en die slaai effe verlep. Dit sal gebeur, moenie dat dit jou dag bederf nie.
Moenie dat enigiets jou dag bederf nie, ook nie knypende finansies nie, want deur alles mooi te deurdink, kan kostes gesny word en die onmoontlike met ‘n minimale begroting reggekry word. Daar is altyd ander opsies as die magistraatskantoor om teen ‘n bekostigbare prys in die huwelik te tree.